Pa vs Vader

Vadersdag, ‘n dag waar vaders bederf word met handgemaakte briefies en lekker eetgoed. Want êrens is daar ‘n kind/kinders wat hom pappa noem. Ek is ook bevoorreg om so tyd terug ‘n lockdown vadersdag te kon vier as ‘n pappa van twee pragtige prinsessies. Maar wat maak jou ‘n pa? Jou sukses jou sport of hoe cool jy is? Jou groot bakkie of hoe macho jy is. OF is dit omdat jy by ‘n vrou geslaap het en nou is daar ’n klein mensie wat jou pa noem. Ek lees die nuus en sien in hierdie onderstebo wêreld bitter min stories van Vaders maar baie stories van pa’s.

Wat bedoel ek?

‘n Pa is iemand wat ‘n kind in die wêreld help bring het.

‘n Vader is iemand wat sy lewe aflê vir sy kinders. Nie noodwendig fisies nie maar, sy drome en behoeftes tweede stel om sy kinders op te lig sodat hulle so naby aan hulle drome kan kom as moontlik.

n pa gebruik geweld mag en vrees om sy familie te dissiplineer.

‘n Vader lei met wysheid, liefde en fermheid. Hy leer hulle daar is gevolge op elke besluit wat jy neem. Die goeie en die slegte.

‘n pa lig sy hande

‘n Vader lig sy hande na sy Almagtige Vader wat hom lei

‘n pa sit sy vrou op haar plek selfs voor die kinders, sy moet weet wie is die baas van die huis.

‘n Vader het sy vrou so lief soos Christus die kerk lief het en sy kinders sien dit.

Is ek ‘n pa of ‘n Vader?

Beslis strewe ek daarna om die perfekte voorbeeld van God ons Vader na te volg. As ‘n vader in ‘n stukkende wêreld met  voorbeelde van pa’s en Vaders in my lewe. Is my hoof doel om ‘n Vader te wees wat vir my prinsesse wys hoe hulle prinse hulle moet hanteer.

My grootste droom is dat my twee dogtertjies eendag (soos Paulus sê)  my voorbeeld sal kan na volg as volgeling van die Volmaakte Vader.

Scroll to Top